Sunday 6 May 2012

Perdryterapie help Dagbreek

Perdryterapie help Dagbreek
Me. Vesta Burmeister besig met ’n terapeutiese perdrysessie met ’n jong kliënt.
Individue met verskillende fisiese, emosionele, kognitiewe en maatskaplike gebreke of uitdagings baat by terapeutiese perdry, ook bekend as geassisteerde perdryaktiwiteit of aangepaste perdryaktiwitieit.
Ongeveer 130 leerlinge van die Dagbreek-skool in Windhoek het reeds die afgelope drie jaar by perdryterapie gebaat, maar kan nie met die spesiale terapie voortgaan nie as gevolg van ’n tekort aan geld om vir die terapie te betaal.
Volgens die skoolhoof van die Dagbreek skool, mnr. Paul du Plessis, het die perdry-terapie ’n groot rol in die ontwikkeling van die leerlinge van die skool gespeel en het dit ’n daadwerklike invloed op die lewensomgewing van die kinders gehad.
“Hulle het oor ’n tydperk ’n verhouding met die perde opgebou wat bevorderlik was vir hul gevoelens van vertroue en eiewaardigheid,” het mnr. Du Plessis gesê.
Hy het genoem dat die perdryterapie van groot waarde is vir die leerlinge van die skool en dat hulle daarmee sal wil voortgaan indien hulle borge kan kry om vir die terapeutiese sessies te kan betaal. Die skool het ook sy dank teenoor die vorige borg, Letshego Namibia, uitgespreek vir die borgskap aan die terapeutiese perdry-projek vir die afgelope drie jaar.
Terapeutiese perdry word reeds vir honderde jare gebruik om terapie te gee aan mense met verskeie gebreke. In die 1950’s is die terapeutiese waarde van perdryterapie erken, nadat begin is met terapie vir gewonde soldate by die Oxford-hospitaal gedurende die eerste wêreldoorlog.
Terapeutiese perdry verskil van tradisionele perdry en volgens me. Vesta Burmeister wat terapeutiese perdrysessies aanbied, het die individue wat aan terapeutiese perdry deelneem verskillende behoeftes wat vooraf geïdentifiseer word.
Elke les is gestruktureer om te fokus op die verbetering van die spesifieke behoefte en die perde word spesiaal vir elke individu uitgesoek.
Vir ’n persoon wat aan aandagsgebrek- hiperaktiwiteitsindroom ly sal ’n perd wat ’n groter uitdaging aan die ruiter bied, gekies word. Die instrukteur sal ook volgreeksoefening by die terapie insluit, om te verseker dat die ruiter tot die einde van die sessie gefokus bly.
“Dit is noodsaaklik dat daar baie beweging, soos trippel en gallop van die perd en verskeie speletjies, by die terapie betrokke is om die ruiter geïnteresseerd te hou.”
’n Persoon wat aan serebrale pulsie ly en spastiese spiertonus het, sal op ’n perd met ’n smal rug ry, sodat die persoon nie oorstrek word terwyl hy/sy op die perd sit nie.
Lesse word so gestruktureer sodat die ruiter ontspanne sal wees en gestrek sal word. Die voordele van terapeutiese rykuns is gegrond op die beweging van die perd. Volgens me. Burmeister bied die drie-dimensionele, ritmiese beweging van die perd stimulering aan die spiere van die ruiter.
Die vorming van die band tussen die ruiter en perd kan ’n reusesin van vryheid aan die individu tot gevolg hê en bevorderlik wees vir vertroue en ’n sin vir eiewaarde.
Oefeninge en opdragte wat normaalweg as vervelig of “werk” gesien word in ’n tradisionele terapeutiese omgewing, word gewoonlik pret tydens ’n terapeutiese perdrysessie. Die perde kan die ruiter help om in beheer van hul omgewing te voel, aangesien daar ’n duidelike wederkerige betrekking tussen aksie en reaksie is.
Om ’n verhouding met die perd te bou, kan ’n lonende ondervinding vir ’n mens wees. Vir ’n persoon met ’n emosionele, maatskaplike of psigologiese gebrek, kan die vertroue en lojaliteit van die dier aan die ruiter oorgedra word en kan dit ’n bydrae lewer tot persoonlike verhoudings.
Die onvoorspelbare aard van diere en toestande skep ’n ware lewensomgewing, waarbinne die studente hul vrese sal kan beheer en aanpassings kan maak vir toestande buite hulle beheer.
Persone wat daarin belangstel om ’n borgskap ten opsigte van perdryterapie vir die leerlinge van die Dagbreek-skool te maak, kan die skoolhoof, mnr. Paul du Plessis, by 081 240 4496 of 061-227 901 kontak.

No comments:

Post a Comment