Sunday 6 May 2012

Perd is 'n perd is 'n terapeut!

Voorblad: Perd is 'n perd is 'n terapeut!
2010-05-08 13:21
Magda Swart
Wanneer kinders in die natuur blootgestel word aan perde, hulle leer verstaan en begin ry, gebeur daar iets. Jy sien dit in hul oë, in hul houding... Dis dáárdie iets (wat nie so maklik gedefinieer kan word nie) wat jou laat besef diegene wat oor perde se helende uitwerking op die mens praat, is dalk nie heeltemal verkeerd nie.


Elna Wahl is al langer as tien jaar besig met kinders en perde by Mooikrans Equus op haar plaas Mooigelegen naby Amersfoort in Mpumalanga. En ná al die jare is sy steeds verwonderd oor hoe ongelooflik goed die kinders reageer wanneer hulle 'n week of langer op die plaas in aanraking kom met die perde.

"Hulle kom hier aan met hul stadsklere en ongeërgde houding... baie belangrik en vol bravade of skaam, bang vir alles en duidelik heeltemal uit hul plek tussen al die ander vreemde kinders en die plaasdiere.
"Dan begin die wonderwerk tussen perd en kind. En wanneer daardie 'stadskind' huis toe gaan, gebeur daar gewoonlik drie dinge: Eers die hartseer afskeid van nuwe vriende en 'n baie spesiale perd, en dan die belofte om so gou moontlik terug te kom. En 'n dag of wat later bel 'n ouer gewoonlik om te vertel hoe die kind verander het. Altyd ten goede." 
As Elna begin gesels oor wat sy haar "spesiale kinders" noem, blink haar oë. So was daar 'n seun wat byna by die einde van sy pad in Boys Town gekom het. Sy pa was moedeloos en het hom een vakansie op Mooikrans kom aflaai. 
"Aanvanklik was ek maar skepties en het vir sy ouers gesê die eerste keer dat hy probleme veroorsaak, stuur ek hom huis toe. Hy kom toe ook hier aan – onwillig, dikmond, beketting en loop met 'n slap houding. Ek het nie veel hoop gehad nie, maar perd en natuur het wéér gewerk.

"Drie dae later het ek sy pa gebel. Nie om hom te kom haal nie, maar om vir hom te sê watter oulike seun hy het.
"Moenie dink dit was maklik nie. Hy't maar moeilik aangepas en ons moes ferm optree. Maar toe daardie 'iets' gebeur, het alles begin verander. Terug by die skool, het sy gedrag so verbeter dat hy uit Boys Town kon gaan na 'n ander skool. Hy het gekies om na 'n kosskool naby Mooikrans te kom sodat hy soveel tyd moontlik hier op die plaas kon deurbring.
En vandag is hy 'n suksesvolle jong man wat besig is om te bou aan 'n loopbaan."

No comments:

Post a Comment